Author Article

Wat beteken dit vir my om ’n skrywer te wees?

Jannie Putter
Dit het begin by ’n droom wat by my geplant is toe ek in my eie oë niks was nie.

Ek was by ’n kongres waar die spreker sy lewensverhaal met ons gedeel het. Dit het gemaak dat ek met intens persoonlike vrae gekonfronteer is. Die spreker het die volgende woorde geuiter: “I do not know to whom I am speaking to right now – I might be speaking to the next best-selling author . . . And you are not even aware of it!”

Daardie woorde het ’n vlam in my laat opskiet en ’n droom het begin. Hoe skryf ’n mens? Wat skryf ’n mens? Ek moes soveel vrae deurworstel en antwoorde daarop vind. Die ontdekkingsreis waarmee ek destyds begin het, het my lewe ryker as ooit tevore gemaak. My lewe het ’n nuwe rigting ingeslaan. Tydens hierdie ontdekkingsreis na die vraag wat dit verg om ’n boek te skryf, vind ’n mens baie meer as net antwoorde op eenvoudige vrae – jy vind jouself. Jy vind ook wysheid in hoe ander dink. En die lekkerste van alles – jy vind dat daar nie net een antwoord op ’n vraag is nie. Daar is klomp. Trouens, daar is waarskynlik soveel antwoorde as wat daar mense is.

Ek weet ons is hier op aarde om God te verheerlik deur wie ons is. Ek weet ook dat álles wat in my lewe gebeur het, en nog steeds gebeur, my getuienis is. Dit is my storie wat ek kan oorvertel. Ek weet dat niks werklik sleg vir my kan wees nie. Alles is tot my voordeel, want al is dit dalk ongemaklik en gaan dit met hartseer en teleurstelling gepaard, is daar altyd ’n oorwinning versteek. En in die oorwinning ’n storie.

Om ’n skrywer te wees is die avontuur om só met woorde te kan speel sodat ’n ervaring en ’n emosie in die gedagtes en in die wese van my lesers geskep kan word. Om ’n skrywer te wees is om my roeping só uit te leef dat ek mense daardeur kan inspireer, kan motiveer en kan leer dat die volle waarheid (nie net jou eie waarheid nie) jou werklik vry maak. Om ’n skrywer te wees verander my, want ek dink wyer, ek vra meer vrae en ek is verplig om na alles vanuit meer as net my eie oë te kyk.

Om ’n skrywer te wees, is vir my ’n passie en ’n uitdaging. Dit gaan daaroor om “raak” woorde te vind wat vir mense sin sal maak, sodat hulle hul binne die prentjie kan plaas en daarvolgens beter besluite vir hul lewens kan maak. Om ’n skrywer te wees is ’n avontuur wat nooit sal ophou nie: die skat van woorde is onuitputbaar, die krag van woorde onstuitbaar en die kombinasies van woorde ontelbaar. Om ’n skrywer te wees is ’n voorreg wat mý meer as my lesers vorm. Dis ook ’n heerlike verantwoordelikheid, want uiteindelik moet ek dít leef wat ek skryf en praat.

NEWS & EVENTS

AUTHOR FOCUS

CHRISTINE FERREIRA

Since 2005, Christine has been the editor of Lééf met hart & siel, a magazine for women, mainly from a religious point of view. She has been the speaker at numerous occasions and she is part of the group that accompanies readers  to Israel. Before her positi ... MORE

COMMENT